Saturday, 14 July 2007

Inspirasie

Elke dan en wan kom daar iemand oor jou pad wat jou inspireer om onkonvensioneel te wees. Om nie net "gewoon" te wees nie. Een van my onlangs gemaakte vriendinne inspireer my. Sy is so baie soos wat ek wil wees - gewoon doen dit net nie vir haar nie.
Ek weet 'n mens moenie begeer nie, maar dit is die tipe vrou wat ek eendag graag sal wil wees. Hoewel dit sekerlik nie begeer is om iemand as rolmodel te hê nie. Ek dink begeer is die verkeerde woord, maar ek dink jy kry die idee. Nie dat sy perfek is nie - sy laat 'n ou Singer naaimasjien buite staan!! :-0!! En dan deel sy my ewe nonchalant mee dat die naaimasjien nog in werkende toestand is.
Net dat sy haar "sanity" behou het deur die jare. En nie verstok en verbitterd is nie, maar wat bybly met die tye. Iemand wat kan raad gee op 'n manier dat dit nie noodwendig na raadgee klink nie. Ek het nou die dag oor ons verhouding gedink en probeer analiseer of ek haar as 'n plaasvervanger-ma sien. Tot ek weer my ma gesien het een naweek. My ma bly my ma, en ek is lief vir haar. Ons sal sekerlik nooit waarlik 'n goeie verhouding hê nie, maar ten minste weet ek dat sy haar bes probeer het. Dalk nie altyd die liefde gegee waarna ek gesmag het nie, maar soos iemand eenkeer gesê het: "Just because someone doesn't love you the way you want, doesn't mean they don't love you with everything they have".
Dit voel net vir my of my ma my en my omstandighede nie verstaan nie, en dus nie konstruktiewe kommentaar kan lewer nie. Daar is natuurlik die moontlikheid dat ek haar net nog nooit kans gegee het om "my" beter te leer ken nie. Sy het my al diep seergemaak, so dit is vir my moeilik om haar met meer as die oppervlakkige te vertrou.
Wat my nogal opgeval het, is my bereidheid om iemand anders se raad eerder as my ma s'n te volg. Is dit dalk omdat 'n mens te na aan jou ma is, soos "it's too close too home"? Ider geval, ek laaik my nuwe vriendin kwaai. Soos smarties. Of Lindor balls, eintlik. Die donker soort.
Sy is werklik vir my 'n inspirasie om "meer" te wees. En sy hét die t-shirts.

'n Foto van my hondekind


Hier is 'n foto van my hondekind, Asjas. Die hond wat my oppas en warm hou in die aande! Hy gedra homself meeste van die tyd soos 'n mens. Sit op banke, slaap in beddens. Hy eet net nie mense kos nie. Nie uit vrye keuse nie, let wel, maar ek koop vir hom honde kos en beperk sy inname van mense kos.
Ek is baie lief vir my hond!!

Sunday, 08 July 2007

Die soeke na wysheid en kennis

Vannaand by die bybelstudie het ons oor wysheid gesels. Oor wat wysheid nou eintlik is. Spreuke sê dat wysheid begin by die kennis/dien van God (afhangende van watter vertaling jy lees). Nou kyk ek in my klein bibliotekie watter aanhalings ek kan kry oor wysheid.

Twee van my gunstelinge is deur Albert Camus en Laurence Peter. Camus sê "Wysheid is die insig om te weet wanneer en hoe om te praat en wanneer en waar om stil te bly." Peter het die gedagte: "Wysheid kom nie van al die antwoorde hê nie, maar van oop wees vir al die vrae".

Een ding wat beide die Bybel en meeste van die aanhalings in gemeen het, is dat daar 'n baie besliste verskil is tussen wysheid en kennis. Dat kennis uit boeke en die verstand kom, terwyl wysheid 'n baie meer intuïtiewe (is dit 'n ware afrikaanse woord, of 'n anglisisme?) bron het. Jy het dit, of jy het dit nie.

Vir my is wysheid nie net iets wat kom saam grys hare nie, maar 'n tipe eerlikheid. 'n Manier van dink wat spreek van opregtheid. 'n Nugter helderheid van denke. Om iets of iemand in die oë te kyk en te weet wat die probleem is, en wat jy gaan doen om die probleem op te los sonder om skelm te wees of te wil jok of doekies omdraai.

Om te weet wat om te doen hetsy dit stil bly is, of praat of doen, en dit dan te doen met die vaste oortuiging dat jy die beste doen wat jy kan. En dan ook te weet dat jy nooit alles sal weet nie, en maar net altyd jou bes probeer met alles wat jy doen. Om die regte ding op die regte tyd te doen.

Hoekom die konnektasie dat wysheid saam grysheid kom? Ek dink dis bloot omdat baie mense "leer deur ontdek". Jy weet wat jy weet, want jy het al daardie paadjie geloop en weet dat daar 'n klompie slaggate is, dus vermy jy daardie spesifieke pad. Been there, done that, got the t-shirt / got the scars.

Confucius sê dan ook: "Ons leer wysheid op drie maniere: Eerstens deur nadenke - dit is die edelste. Tweedens deur navolging - dit is die maklikste. Derdens deur ervaring - dit is die bitterste."

Wat anders som die christenskap ervaring so mooi op? As die Spreuke skrywer skryf wysheid begin met die dien van die Here, dan kan 'n mens sê dat jy eie wysheid-databasis die dag begin bou word sodra jy Christus as jou persoonlike Verlosser aanneem. Dit is tog daardie dag wanneer jy erns begin maak met die lees en bestudering van die Bybel. Wanneer jy nadink oor God se woord en dit jou eie maak (Ps 199:148). Dit is dan wanneer jy Christus se voorbeeld begin navolg - om al hoe meer en meer aan sy Beeld gelyk te word (Fil 3).

Gelukkig / ongelukkig begin jy deur ervaring leer die dag wanneer jy gebore word. Jy leer deur jou oë toe te maak, jy die skerp lig kan vermy. Deur te suig word jy gevoed. So leer jy dan ook tot die dag wanneer jy doodgaan. Soms is die leer proses 'n baie, baie eina proses. Soms is dit 'n plesier. Iemand het my eendag, na 'n bitter ondervinding, gevra of ek iets daaruit geleer het. Ek antwoord toe "nee". Hoe leer 'n mens iets uit 'n bitter ondervinding? Sal die persoon toe sê: "Maar dan het jou ondervinding geen doel gedien nie".

Tot vandag toe nog probeer ek altyd die les raaksien wat ek moet leer. Ek probeer altyd kyk hoe die ondervinding in my databasis kan inpas. God forbid, dat ek 'n oomblik van my lewe nutteloos verby moet laat gaan!

Ek is nog lank nie wys nie, maar dit keer my nie om daarna te streef nie. Ek wens net die pad was nie steil nie!!