Elke dan en wan kom daar iemand oor jou pad wat jou inspireer om onkonvensioneel te wees. Om nie net "gewoon" te wees nie. Een van my onlangs gemaakte vriendinne inspireer my. Sy is so baie soos wat ek wil wees - gewoon doen dit net nie vir haar nie.
Ek weet 'n mens moenie begeer nie, maar dit is die tipe vrou wat ek eendag graag sal wil wees. Hoewel dit sekerlik nie begeer is om iemand as rolmodel te hê nie. Ek dink begeer is die verkeerde woord, maar ek dink jy kry die idee. Nie dat sy perfek is nie - sy laat 'n ou Singer naaimasjien buite staan!! :-0!! En dan deel sy my ewe nonchalant mee dat die naaimasjien nog in werkende toestand is.
Net dat sy haar "sanity" behou het deur die jare. En nie verstok en verbitterd is nie, maar wat bybly met die tye. Iemand wat kan raad gee op 'n manier dat dit nie noodwendig na raadgee klink nie. Ek het nou die dag oor ons verhouding gedink en probeer analiseer of ek haar as 'n plaasvervanger-ma sien. Tot ek weer my ma gesien het een naweek. My ma bly my ma, en ek is lief vir haar. Ons sal sekerlik nooit waarlik 'n goeie verhouding hê nie, maar ten minste weet ek dat sy haar bes probeer het. Dalk nie altyd die liefde gegee waarna ek gesmag het nie, maar soos iemand eenkeer gesê het: "Just because someone doesn't love you the way you want, doesn't mean they don't love you with everything they have".
Dit voel net vir my of my ma my en my omstandighede nie verstaan nie, en dus nie konstruktiewe kommentaar kan lewer nie. Daar is natuurlik die moontlikheid dat ek haar net nog nooit kans gegee het om "my" beter te leer ken nie. Sy het my al diep seergemaak, so dit is vir my moeilik om haar met meer as die oppervlakkige te vertrou.
Wat my nogal opgeval het, is my bereidheid om iemand anders se raad eerder as my ma s'n te volg. Is dit dalk omdat 'n mens te na aan jou ma is, soos "it's too close too home"? Ider geval, ek laaik my nuwe vriendin kwaai. Soos smarties. Of Lindor balls, eintlik. Die donker soort.
Sy is werklik vir my 'n inspirasie om "meer" te wees. En sy hét die t-shirts.
No comments:
Post a Comment